Vir alle optredes kontak Jopie Koen by 072 460 5568 of 012 329 0709 of stuur 'n epos na jopie@pierneefteater.co.za

                                

                    Jannie se planne vir 2024


Sondag 14 Januarie 2024


Op die vooraand van die veertigste herdenking van Koos du Plessis se sterfdatum (15 Januarie 1984) vind 'n lewendige uitsending van sy liedere en tekste deur RSG plaas.  Dit is die verhoogproduksie Doep is nie dood nie vanuit Ateljee M1 by die SAUK in Aucklandpark.

Doep is nie dood nie
Jannie, Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

Toegang sal gratis wees, maar besprekings sal vooraf gedoen moet word op ‘n wyse wat deur RSG aangekondig sal word. Hou hierdie webwerf dop vir verdere inligting.

 

Na aanleiding van bogenoemde uitsending skryf Kobus Burger, programbestuurder van RSG: “Dankie, Jannie. Ek het lanklaas so-iets beleef.  Ons word oorval deur luisteraars wat ons smeek vir ’n heruitsending van Doep is nie dood nie. Selfs mense wat Sondag geluister het, SMEEK ons om dit tog net te herhaal. Julle het die luisteraars DIEP geroer. Ek dink hierdie is ook ’n geskiedkundige moment – om ’n nuwe geslag aan Koos en sy werk bloot te stel.”

Hierdie gebeure en Kobus se woorde het Jannie laat besluit om hierdie jaar baie sterk op die Koos Doep-aanbieding te konsentreer, onder andere deurdat dit die produksie sal wees wat hy aan die einde van die jaar op sy gebruiklike jaareind-toer vat – soos oor die afgelope dekade weer saam met die virtuose tjellis Susan Mouton en Chanie op die klawers.

Maandag 15 Januarie 2024
Doep is nie dood nie in die Atterburyteater in Pretoria

18h00

Dit is op die veertigste herdenking van die sterfdatum van Koos du Plessis - die doyen van die Afrikaanse kleinkuns.

Jannie, Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

 Op dié aand word daar ‘n tweede gedeelte tot die program bygevoeg waarin Koos se dogter Karla en  ander kunstenaars oor Koos en sy werk gesels – dit ook voordra en sing. Dit is ‘n eenmalige aanbieding en Andries (Roof) Bezuidenhout sal die onderskeie kunstenaars voorstel en met hulle gesels. Andries, in sy eie reg ‘n gesoute verhoog- maar ook beeldende kunstenaar, akademikus en spreker, is getroud met Koos se oudste dogter, Irma. Verder is daar Mathys Roets, Wynand Strydom, Jacques Botes en die pa en seun-kombinasie van  Andy en Murray Lubbe. Elkeen van dié kunstenaars het ‘n besondere pad met Koos en/of sy mense en musiek gestap.

 

Saterdag 20 Januarie 2024

15h00

Op aandrang van hulle luisteraars doen RSG 'n heruitsending van die program wat op Sondag 14 Januarie lewendig van die verhoog af uitgesaai is - sien hierbo.

 

 

Sondag 28 Januarie 2024
OPPIEKITAAR

Venue: Die Boer en die Belg - Wildsplaas by Naboomspruit

Daag op teen 12h00 en kom geniet Jannie se musiek op 'n rustige wildsplaas saam met 'n heerlike ete.  

In  sy program OPPIEKITAAR sing en speel Jannie die liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het - natuurlik ook sy bekende en immer gewilde  'N LIEDJIE VIR JOU.

Epos Kristel by info@dieboerendiebelg.co.za

Meer inligting oor die wildsplaas is by www.dieboerendiebelg.co.za

 

Vrydag 2 Februarie 2024

Die Wilge Teater, Pretoria

Bonjour Monsieur Brel onder regié van Juanita Swanepoel met Susan Mouton – tjello en Chanie Jonker – klavier en akkordeon. Jannie speel die kitaar en sing Brel se liedjies. Optredes hier in Suid-Afrika, maar ook in Brel se heimat, België, het gloeiende resensies ontvang. ‘n Ovation-toekenning by  Makandla/Grahamstad Nasionale Kunstefees in 2020 is nog ‘n pluimpie vir die produksie. Dit is hartsmusiek uit die boonste rakke.

Bespreek by

https://www.quicket.co.za/events/247786-jannie-du-toit-bonjour-monsieur-brel/

In Bonjour Monsieur Brel word Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale gesing en begelei deur ’n skitterende ensemble van klavier, tjello en kitaar. Jannie is dekades reeds ’n hoog aangeskrewe Brel-vertolker en ’n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns, onder andere in Nederlands. Sy eerste vertolkings van Brel sing hy in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Laurika Rauch in Club ’58 - Hillbrow. Brel speel sedertdien deurgaans ’n rol in sy aanbiedinge soos De Kleine Man en Jannie en die Tannie saam met Christa Steyn. Sy eerste optrede in ’n volledige Brel-produksie was Brel in Brooklyn in 2010, weer saam met Laurika, met Christa by die klavier en Sergio Zampolli as akkordeonis. Veral twee Nederlandstalige opnames – Madeleine en Liefde van later –  vestig hom vroeg in die negentigerjare as Brel-vertolker en later is van sy Brel-opnames gereeld oor Classic FM gehoor.

 

Paul Boekkooi, Beeld

Enigiemand met ‘n verwysingsraamwerk rondom die egte Brel, sal saamstem dat Du Toit en sy ensemble daarvoor gesorg het dat hierdie een van die blinkste Brel-aanbiedinge is wat tot nog toe in Suid-Afrika op die planke was. Jannie du Toit se voordrag en sang rondom Brel is presies waar dit moet wees:  Idiomaties ryk en genuanseerd, met puik diksie en ‘n stem wat emosioneel en dramaties baie kan waag. Ons het lank vir só ‘n gehalte-aanbieding gewag. 

Lesley Stones – Vryskut-joernalis in Daily Maverick

Bonjour Monsieur Brel is a fine show spanning a collection of the Belgian musician's work in English, French, Dutch and Afrikaans. They’re brought to rip-roaring life by Jannie du Toit, who performs them with the spitting, striding intensity that the man himself would approve of Du Toit is superb, with the gravitas and vocal power to do the songs justice. The music is provided brilliantly by Susan Mouton on the cello and piano and Chanie Jonker on piano and accordion.

Herman Meulemans, Litnet (Tinnenpot-teater, Gent)

Jannie heeft een stemtimbre dat zich buitengewoon goed leent voor gevoeligheid en tederheid ......... Maar hij kan halsoverkop overschakelen naar een totaal ander register, waar ritme de toon aangeeft, zoals in La valse à mille temps, of ongeduld, zoals in Madeleine, of zeemansgebral, zoals in Dans le port d’Amsterdam


SONDAG 11 FEBRUARIE 2024 15H00

'n Spesiale optrede van Jannie met net sy kitaar  by KORSMAN SE KASTEEL op 'n plaas tussen Carolina en Chrissiesmeer - by Pieter en Marjorié Stoffberg. Swem lekker in die rivier en bring jou piekniekmandjie saam.

Vir meer inligting en bespreking stuur 'n Whatsapp aan 082-809-7962

 

  Dinsdag 12 Maart

19:00
Jannie met sy kitaar
Dameskring Northcliff

Privaat funksie



VRYDAG 15 MAART 13H00

THEATRE ON THE SQUARE –

MANDELAPLEIN, SANDTON

ETENSUURKONSERT -WHAT’S FOR LUNCH?

Jannie bied soos dikwels in die verlede 'n program met 'n wye spektrum van ligte musiek in verskillende tale aan om die naweek aan die gang te kry. Die titel van hierdie program is WHAT’S FOR LUNCH? Jannie speel die kitaar en sing saam met Susan Mouton – tjello en Chanie Jonker – klavier en akkordeon. Kaartjies by die deur.


VRYDAG 15 MAART

Aand: NG Dalpark Brakpan

DOEP IS NIE DOOD NIE

Bespreek ny Flip Coetzee 082 891 5799

 15 - 24 MAART 2023 

 JANNIE OP TOER MET SY PRODUKSIE OPPIEKITAAR 

Jannie het sy produksie getitel OPPIEKITAAR in 2023 in die Atterburyteater in Pretoria bekend te stel. Hy bied die program aan in die formaat waarin die luisterpubliek hom in die laat sewentigerjare vir die eerste keer as solo-sanger leer ken het. Gedurende die vroeë sewentigs was hy lid van die Afrikaanse folk-groep TRILOGIE, en later in dié dekade meesal net met sy kitaar op die verhoog, soms ook vir 'n paar liedjies by die klavier. Hy was  in die Laager van die Markteater in Pretoria sedert die heel eerste MUSIEK ENLIRIEK-konsert in April 1979 , ook by sy "Liedjie-aande" in Margaretastraat in Pretoria – en hy het uitsluitlik sy eie liedjies gesing.

In sy jeugvriend Kobus de Witt se koor – AD LIBITUM in Pretoria – het hy die vreugde van a capella-sang leer ken en soms ook solo's gesing. Hy sou later dikwels meerstemmige stemverwerkings doen, waarvan die bekendste – GEE ONS VREDE– vir sy album PALET in 1991. Dié verwerking is sedertdien deur koorleiers landswyd gebruik en vanjaar nog het hy die solo weer saam met sy alma mater, Menlopark, se skoolkoor gesing.

Sy musiekblyspele waaronder LOELOERAAI en GANSDANS by Tukkies in die tagtigerjare lewer talle nuwe liedjies op, maar hy skryf daarin ook verwerkings vir meerstemmige  koor, strykers, dwarsfluit en ligte instrumente. Sedert die middel tagtigs was hy vir 25 jaar saam met Christa Steyn  op kabaret- en revueverhoë. Hulle het talle ander kunstenaars In programme – oor die afgelope dekade – opgedra aan Koos Doep, sy Nederlandse held Jules de Corte, Lucas Maree, Marie Tredoux en Jacques Brel leef hy sy liefde vir musiek en taal passievol uit.  Hy tree gereeld saam met sy vaste ensemble, bestaande uit Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en akkordeon), op. Sy kersprogram getitel IN KERSFEESTYD bring ook jaarliks weer die geleentheid vir a capella-sang saam met die briljante vokale trio BREATHE. Tussen dit alles deur het sy kitaar deur die dekades steeds op die toneel gebly, veral ook oor die afgelope paar jaarin KIEKIES – LUCAS SE LIEDJIES wat hy saam met die virtuose kitaarspeler Thean Kotzé aanbied.

Sy program OPPIEKITAAR bied hy weer soos in die sewentigs net met die kitaar aan, maar nou is die program 'n keur uit die talle liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het. Dit is 'n verrassend wye verskeidenheid van meer en minder bekende liedjies waarin vrolikheid en nostalgie afgewissel word. Sy liedkuns word deur die jare gekenmerk deur keurige tekste, vindingryke akkoordgebruik en, nou meer as ooit tevore, deur sy bedrewenheid op die kitaar. Sy liedjies is gemik op die fynproewer, maar soos 'N LIEDJIE VIR JOU van 1978 reeds bewys het, lê daardie woorde en akkoorde ook lekker op die "gewone" oor.


Saterdag 16 Maart

OPPIEKITAAR

Rosendal – Yolla’s
19:30

Jannie met Oppiekitaar
Bespreek by: 082 660 5443

 

Sondag 17 Maart

Bloemfontein – Planetarium

OPPIEKITAAR

17:00

Jannie met Oppiekitaar

Ten bate van Jean Webber Huis

Bespreek by: https://computicket-boxoffice.com/e/oppiekitaar-jannie-du-toit-7CYX4E

 

Maandag 18 Maart

Graaff-Reinet – OPPIEKITAAR

18:30


Graaff-Reinet – John Rupert Theatre

Bespreek by: Hestie Clegg  0828251380

 

Dinsdag 19 Maart

Wellington – Breytenbach-galery

OPPIEKITAAR
19:00

'n Komplimentêre glasie wyn word deur Mont du Toit wyne aangebied deur die gulhartigheid van Jannie se vriend Steph du Toit, eienaar van die landgoed.

Bespreek by: 083 415 0002 of  galery@breytenbachsentrum.co.za 

 

Woensdag 20 Maart

OPPIEKITAAR

Kleinmond – Perron 25 ( vroeër bekend as Ground Central)
18:00

Bespreek by: 082 415 2837

 

Donderdag 21 Maart

Sedgefield – Studio 42

OPPIEKITAAR

19h00

Bespreek by: Quicket  https://www.quicket.co.za/events/250703-jannie-du-toit-oppiekitaar/?ref=events-list#/

 

Vrydag 22 Maart
Mosselbaai – Pinnacle Point Arts Klubhuis

Sedgefield – Studio 42

18:30 (gaste daag op)

Bespreek by: Annemie 0827748022

  

Saterdag 23 Maart

Port Elizabeth – Nineteen33

19:00


Bespreek by: www.nineteen33.co.za

 

 JANNIE BY DIE KKNK MET DIE PRODUKSIE  "MARGARETASTRAAT"

IETS OOR MARGARETASTRAAT 28 SE LIEDJIE-AANDE IN 1981 EN 1982

In sy verhoogproduksie MARGARETASTRAAT saam met sy gereelde pianis, Chanie Jonker, vertel Jannie du Toit die verhaal van die “liedjieaande” wat in die vroeë tagtigs by sy huis in Pretoria gehou is. Hy vertel van die kleurryke karakters, liedjieskrywers en sangers en hy sing die liedjies waarvan baie vir die eerste keer in Margaretastraat gehoor is.

Jannie vertel:

Aan die begin van 1981 het Johan Kruger, ‘n regsgeleerde wat in daardie stadium in Pretoria as advokaat gepraktiseer het, my genader om na ’n paar van sy liedjies te luister. Daar was ’n pragtige toonsetting van ’n Ingrid Jonker-teks asook ’n paar oorspronklike liedere met goeie woord/toonelemente – mooi liedjies op my oor. Johan het gehoop dat ek vir hom ’n goeie woordjie sou kon doen by ’n platemaatskappy, maar aangesien ek self nie ’n platekontrak gehad het nie, was ek nie in die posisie om dit te doen nie. Die platemaatskappye het alreeds vermoed dat die “luisterlied” nie ’n groot kommersiële toekoms het nie, en ek het besef dat dit ook  nie maklik gaan wees om Johan se esteties mooi liedjies aan hulle te verkoop nie.

Gebaseer op die ervarings wat ek in Johannesburg saam met TRILOGIE by die suksesvolle folk-klub MANGLES gehad het, het ek aan Johan voorgestel dat ons gereeld soiree’s oftewel liedjie-aande moet hou. Die aande is aan die begin by verskillende huise gehou, maar omdat ek geglo het dat dit nie sporadies moet gebeur nie, het ek my huis in Margaretastraat in die middestad van Pretoria aangebied vir dié doel. Elke Vrydagaand sou almal wat in die trant van die luisterlied geskryf het, en entoesiaste wat hulle ondersteun het, welkom wees om die aand daar te kom deurbring. Andy Lubbe, vroeër lid van TRILOGIE, het in dié stadium saam met my in dié huis gewoon, en selfs as nie een van ons daar kon wees nie het die huis oopgestaan. Vir talle jong liedjieskrywers wat aan die begin van hulle loopbane gestaan het was dit ’n uitstekende geleentheid om hulle werk voor ’n waarderende gehoor uit te probeer. Jou eie bottel wyn en eetgoed was al wat die aand (ook vir die kunstenaars) gekos het.

Bekende name wat daar te sien en te hoor was sluit in Koos du Plessis, Janita Claassen en haar sangmaat RD van Huyssteen, Anneli van Rooyen, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Christa Steyn, Richard van der Westhuizen, Ruben Lennox, Marietjie Stoop en Morg Jacobs – my ou maat van TRILOGIE se tyd, en natuurlik ook Andy, Clive en ekself – soms met van ons ou TRILOGIE-liedjies. Teksskrywers soos Babs Pretorius en Theo Naudé was gereeld daar - langdurige vriendskappe en vrugbare samewerking het ontstaan. Daar was natuurlik ook deelnemers aan die liedjie-aande wie se werk nooit bekend sou word nie, of van wie miskien ’n enkele lied by geleentheid opgeneem is deur ’n ander kunstenaar, maar dat daar inspirasie ook vir húlle was, ly geen twyfel nie.

Een aand toe Coenie ook daar was, het Lucas Maree ’n draai kom maak omdat Koos  - wat Lucas se subredakteur by die Pretoriase koerant, Oggendblad,was -. hom so 'n bietjie teen sy sin saamgesleep het.

Lucas self vertel dat Coenie hom daardie aand geïnspireer het om in Afrikaans te begin skryf. Tot in daardie stadium het Lucas net in Engels gesing. Hy het sy wonderlike talent en vaardigheid met die kitaar aangewend om gewilde liedjies in kroeë te sing. Ek kan baie goed onthou hoe Fanus Rautenbach Lucas se eerste liedjies op die radio gespeel het, en ek was verstom oor wat die man geskryf en gesing het. Lucas het sy musiek gebaseer op die folk-, blues- en reggae en rock van die sestigs en sewentigs, en sy liriek vergelyk baie goed met die beste Engelse tekste van daardie era. Lucas se aanvoeling vir die taal en vir die musiek/teks-verhouding sal na my mening moeilik in Afrikaans geëwenaar word.

Koos du Plessis, wat nie daarvan gehou het om op openbare verhoë te sing nie, het in ’n stadium feitlik nog net by die liedjie-aande kans gesien om “voor mense” te sing – en dan natuurlik enkele liedjies op ’n slag. In die spaarkamer van Margaretastraat 28 het Koos Doep se Irma, Karien en Karla saam met ’n klomp ander kindertjies gespeel en aan die slaap geraak totdat hulle laataand uitgedra is na die karre toe.

 

Maandag 25 Maart 

KKNK – Banketsaal

MARGARETASTRAAT

17h00
Jannie met Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

Bespreek by: https://www.webtickets.co.za/v2/Client.aspx?clientcode=kknk

 

Dinsdag 26 Maart  KKNK
KKNK – Banketsaal

MARGARETASTRAAT

16h30

Jannie met Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

Bespreek by: https://www.webtickets.co.za/v2/Client.aspx?clientcode=kknk

 

Woensdag 27 Maart

Fauresmith – Karoohuisteater

MARGARETASTRAAT

18:30

Jannie met Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

Bespreek by: Lizzy 071 603 7258

 

Donderdag 28 Maart
Kroonstad Micro Theatre and Show House

MARGARETASTRAAT
17:00 deure maak oop

Jannie met Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

Bespreek by: 079 694 6878

 

Vrydag 29 Maart - 09h00

NG Parys-Wes
Jannie en Chanie dra ‘n paar liedjies by tot die Goeie Vrydag- erediens


Sondag 21 April
15:00
Doep is nie dood nie
Jannie, Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en akkordeon)
Pierneefteater
info@pierneefteater.co.za of whatsapp 072 460 5568

 

Saterdag 11 Mei

15:00

Etienne Rousseauteater, Sasolburg

Bonjour Monsieur Brel
Jannie, Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

Woensdag 19 Junie

10:00
Die eggo van jou oë
Jannie en Susan Mouton (tjello)
Ligbaken gemeente

 Julie 2024 Vrystaatfees 

Dinsdag 2 tot Saterdag 6 Julie
MARGARETASTRAAT die verhaal van die liedjie-aande
Jannie met Chanie Jonker (klavier en akkordeon)

Jannie vertel die verhaal van die liedjie-aande wat in die vroeë tagtigerjare in sy huis in Pretoria gehou is en laat die musiek van daardie baanbrekers van die luisterliedjie, oftewel die kleinkuns, herleef. (Sien hierbo by Maart 2024)Jannie met sy kitaar en Chanie Jonker op klavier en akkordeon.

Oktober 2024
 

Saterdag 26 Oktober
Jannie tree op by DIE Nederduits Hervormde Gemeente Horison se dinee

November 2024

Jannie en sy groep mik om gedurende November veral die program IN KERSFEESTYD 2024 aan te bied. Gemeentes en ander instansies kan gerus met Jopie Koen in aanraking kom – sy is reeds besig om optredes te reël. Haar inligting is heel onderaan hierdie blad.

Desember 2024

Na die sukses en oorweldigende openbare reaksie op die program DOEP IS NIE DOOD NIE wat op die veertigste herdenking van Koos du Plessis se sterfdatum in die Atterburyteater aangebied is, asook uitsendings van dié program op RSG, is besluit om gedurende Jannie se gebruiklike jaareind-toer op dié program te fokus. Kontak Jopie gerus ook in hierdie verband.

 

Vir alle navrae oor Jannie se optredes – besprekings, kaartjieverkope ens - skakel Jopie Koen by 072-460-5568 en/of stuur eposse beide aan 

jopie@pierneefteater.co.za en jannie@agterplaas.co.za